Efesiërs 1:14-17 Die Boodskap (DB)

14. Die Gees is soos ’n merk wat God julle laat dra om te wys dat elkeen wat Jesus s’n is, ook Syne is. Meer nog, die Gees is ook ons bewys dat God begin het om vir ons alles te gee wat Hy ons beloof het. Die Gees is maar die begin van dit wat God eendag alles vir ons gaan gee. Hy gaan elkeen wat Syne is heeltemal vrymaak. Laat ons vir almal vertel hoe groot God is.

15. Ek het gehoor dat julle verhoudings gesond is: julle staan in ’n sterk verhouding met Jesus deur julle geloof en julle tree liefdevol onder mekaar as God se mense op. Mooi so.

16. Nou sê ek vir God dankie vir mense soos julle, elke keer wanneer ek bid. Wees verseker: ek vergeet julle nie wanneer ek bid nie.

17. Ek vra God, ons wonderlike en groot Vader, die God van ons Here Jesus Christus, om deur sy Gees vir julle die kennis te gee wat julle nodig het om in hierdie lewe reg op te tree. Ek vra ook dat julle Hom al hoe beter sal leer ken deur alles wat Hy vir julle sal duidelik maak.

Efesiërs 1