Deuteronomium 20:7-10 Die Boodskap (DB)

7. Is daar iemand onder julle wat nou net verloof geraak het? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan en gaan trou. Dalk word hy in die geveg doodgemaak en dan trou iemand anders op die ou end met sy verloofde.’

8. Dan moet die offisiere ook vra: ‘Is daar iemand onder julle wat bang is? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan. Anders steek hy nou-nou die ander soldate aan sodat daar ’n klomp bangbroeke is wat aan die oorlog moet deelneem.’

9. As die offisiere klaar met die soldate gepraat het, moet hulle die leiers van die verskillende gevegseenhede se name aankondig.”

10. “As jy oorlog teen ’n stad maak, en jy trek teen hom op, bied eers vir die mense van die stad vrede aan. Sê vir hulle onder watter voorwaardes jy hulle stad sal spaar.

Deuteronomium 20