16. As jy kan lees wat daar geskryf staan en vir my kan sê wat dit beteken, sal ek vir jou ’n koninklike kleed gee om te dra en ’n goue ketting om jou nek. Jy sal saam met my oor my ryk regeer as die persoon wat derde in bevel is.”
17. Daniël het geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke vir uself of gee dit vir iemand anders. Ek sal in elk geval vir U Majesteit lees wat daar geskryf staan en wat dit beteken.
18. Die allerhoogste God het u vader, Nebukadnesar, ’n magtige en beroemde koning gemaak en aan hom groot eer gegee.
19. Hy was so magtig dat mense van alle volke, nasies en taalgroepe met vrees en bewing van hom gepraat het. Hy het doodgemaak wie hy wou en laat leef wie hy wou. Net so het hy ook besluit wie hy wou eer en wie hy wou verneder.
20. Ongelukkig het hy toe te vol van homself geword. Daarom is hy van sy troon afgesit en het hy al sy eer verloor.