7. Hoe gelukkig is hierdie mense tog nie! Wat ’n voorreg is dit vir u amptenare wat elke dag na u wysheid kan luister.
8. Die Here, u God, is inderdaad baie groot! Dit is omdat u God Israel so liefhet en besluit het om hulle vir altyd in stand te hou dat Hy u hulle koning gemaak het, om regverdig te regeer.”
9. Sy het toe vir die koning omtrent vier ton goud en ’n groot hoeveelheid speserye en edelstene gegee. Daar was nog nie voorheen sulke hoë kwaliteit speserye soos dié wat die koningin van Skeba vir Salomo gegee het nie.
10. (Toe Hiram en Salomo se skepe destyds goud van Ofir af gebring het, het hulle ook jenewerhout en edelstene saamgebring.
11. Die koning het die hout gebruik om trappe vir die tempel en die paleis te bou en om liere en harpe vir die musikante te maak. Sulke instrumente is nog nie voorheen in Juda gesien nie.)