2 Kronieke 6:31-36 Die Boodskap (DB)

31. Dan sal hulle leer wat reg is vir U en dit doen. So sal hulle dan lank lewe in die land wat U vir ons voorouers gegee het.

32. “As dit gebeur dat ’n vreemdeling, soos iemand uit ’n ver land, van U hoor en hier by die tempel tot U kom bid,

33. luister dan tog uit die hemel waar U woon. Gee vir die vreemdeling wat hy van U vra. Dan sal al die mense op aarde U leer ken en U dien soos Israel dit doen. Hulle sal dan weet dat dié tempel wat ek gebou het, ter ere van u Naam gebou is.

34. “As U volk op u bevel gaan oorlog maak en hulle bid tot U in die rigting van Jerusalem en die tempel wat ek vir U gebou het,

35. luister dan tog uit die hemel na hulle gebed. Laat gebeur wat reg is.

36. “As hulle teen U sonde doen (en is daar ’n mens wat nie sonde doen nie?), kan U dalk kwaad word en hulle vyand toelaat om hulle te oorwin en weg te voer na ’n vreemde land.

2 Kronieke 6