2 Kronieke 6:18-25 Die Boodskap (DB)

18. “Sal God nou werklik op aarde tussen mense kom woon? Die ganse hemel is te klein vir U. Hoeveel minder kan hierdie tempel wat ek gebou het U huisves!

19. Luister tog na my gebed en my versoek, o Here. Hoor my uitroep tot U!

20. Pas tog die tempel wat U self as woonplek gekies het, dag en nag op. Dan sal U my gebede hoor wat ek na hierdie tempel toe rig.”

21. “Mag U altyd die nederige en ernstige gebede hoor wat ek en my volk na hierdie plek toe rig. Mag U luister van waar U in die hemel woon en mag U ons vergewe as ons teen U sonde doen.

22. “As iemand ’n ander te na kom en hy word deur ’n vloek verplig om hier by die altaar in die tempel ’n belofte voor U af te lê,

23. luister tog uit die hemel daarna. Laat reg geskied. Laat die skuldige sy straf kry en die onskuldige vry uitgaan, soos wat reg is.

24. “As ’n vyand u volk Israel verslaan omdat hulle sonde gedoen het, en as hulle hulle dan bekeer en dit erken en hier in die tempel tot U kom bid,

25. luister tog uit die hemel. Vergewe hulle sonde en gee weer vir hulle die land wat U aan hulle voorouers gegee het.

2 Kronieke 6