20. Die Here se Gees het toe vir Sagaria in besit geneem. Hy was Jojada, die priester, se seun. Hy het voor die volk opgestaan en vir hulle gesê: “Hier is ’n boodskap van God spesiaal vir julle: Waarom luister julle nie na die Here se opdragte nie? Dit is tot julle eie nadeel! Julle het die Here verlaat, nou gaan Hy julle verlaat.”
21. Die leiers het toe teen Sagaria saamgesweer. Op koning Joas se bevel het hulle hom in die voorhof van die Here se tempel met klippe doodgegooi.
22. Sonder om terug te dink aan Jojada se lojaliteit aan hom, het Joas vir Sagaria, Jojada se seun, laat doodmaak. Sagaria se laaste woorde was: “Mag die Here sien wat hulle doen en hulle daarvoor straf!”
23. Teen die einde van die jaar het die Arameërs Joas aangeval. Hulle het Juda en Jerusalem ingeval en al die leiers doodgemaak. Hulle het al die goed wat hulle gevat het, na hulle koning in Damaskus teruggestuur.