2 Korintiërs 8:11-18 Die Boodskap (DB)

11. Handel hierdie geldinsameling asseblief nou af. Sit weer geld daarvoor opsy. Doen dit met dieselfde geesdrif waarmee julle verlede jaar begin het.

12. Die belangrikste van alles is dat julle julle geld met die regte gesindheid sal gee. Dan maak julle God se hart sommer baie bly.

13. Natuurlik vra God nie meer van julle as wat julle besit nie. Nee, dra net tot die fondsinsameling by uit die geld wat julle tot julle beskikking het. Julle hoef regtig nie elke sent op julle naam weg te gee nie.

14. Daar moet ewewig in die kerk wees wanneer gelowiges mekaar geldelik help. Dit moet só gedoen word: julle wat nou genoeg geld het, moet daardie Christene help wat te min geld het. Later, wanneer julle weer te min geld het, moet hulle julle kom uithelp. So kom daar ewewig.

15. Dit is presies wat die Bybel sê:“Hy wat baie besit, het nie te veel nie. Hy wat ’n bietjie besit, het nie te min nie.”

16. Ek is baie dankbaar teenoor God omdat Hy Titus so ywerig gemaak het om julle te kom help. Hy is net so ywerig soos ek self.

17. Ek het Titus vroeër aangemoedig om weer na julle toe te gaan, maar hy het sommer self besluit om na julle toe te gaan omdat hy so baie vir julle omgee.

18. Ek stuur nog iemand saam met Titus na julle toe. Hy is baie bekend in al die gemeentes omdat hy so hard werk in diens van die evangelie.

2 Korintiërs 8