8. Ons weet hoe dit voel om deur ander geëer én beledig te word. Ons naam is al dikwels deur die modder gesleep. Ander kere weer is ons geprys en oorlaai met eer. Ons is ook al dikwels beskuldig dat ons leuens vertel. Tog praat ons net die waarheid.
9. Baie mense maak asof hulle ons glad nie ken nie. Maar gelukkig ken God ons. Mense het ons al ’n hele paar keer vir dood afgeskryf. Maar kyk: ons lewe nog. Ons is aangerand en geslaan. Tog is ons nog hier.
10. Ons ken hartseer, maar ons is altyd vol vreugde. En armoede - ja, natuurlik weet ons ook wat dit is. Maar ons het al baie mense se lewe skatryk gemaak met die goeie nuus. Ons is regtig brandarm. Nie een van ons het ’n sent op ons naam nie, tog is ons skatryk. Ons werk immers vir God aan wie alles behoort en wat ons oorlaai met sy goedheid.
11. Gelowiges van Korinte, ek praat nou reguit met julle. Ek doen dit omdat ek baie vir julle omgee.
12. Dit lyk egter nie vir my of julle dieselfde teenoor my voel nie.