6. “Is dit waar?” het die koning haar gevra. Sy het alles bevestig. Die koning het ’n amptenaar van die paleis saam met haar gestuur. Hy het vir die amptenaar gesê: “Sorg dat sy alles kry wat aan haar behoort. Sorg verder ook dat sy die waarde ontvang van die oeste wat op haar lande ingesamel is van die tyd wat sy weg was.”
7. Elisa het Damaskus, die hoofstad van Aram, besoek terwyl die koning, Ben-Hadad, siek in die bed was. Iemand het vir Ben-Hadad vertel dat Elisa in die stad was.
8. Toe hy dit hoor, het Ben-Hadad vir Gasael na Elisa toe gestuur. “Neem geskenke saam en gaan vra vir die man van God Hy moet die Here vra of ek weer gesond gaan word,” het hy beveel.
9. Gasael het 40 kamele gelaai met die beste produkte uit Damaskus as ’n geskenk vir Elisa. Toe hy by hom aankom, het hy gesê: “U kneg, Ben-Hadad, die koning van Aram, het my gestuur om te vra of hy weer gesond sal word.”
10. Elisa het geantwoord: “Gaan sê vir hom: ‘U sal gesond word,’ maar die Here het my laat weet dat hy eintlik gaan sterf.”
11. Elisa het stip na Gasael gekyk, totdat Gasael ongemaklik begin raak het. Toe het Elisa begin huil.
12. Gasael het gevra: “Waarom huil u, Meneer?”“Omdat ek weet watter verskriklike dinge jy met die Israeliete gaan doen,” het hy geantwoord. “Ek weet jy gaan hulle vestingstede aan die brand steek, hulle jongmans doodmaak, hulle kinders teen die grond doodslaan en dat jy hulle swanger vroue gaan oopsny.”