2 Konings 8:12-19 Die Boodskap (DB)

12. Gasael het gevra: “Waarom huil u, Meneer?”“Omdat ek weet watter verskriklike dinge jy met die Israeliete gaan doen,” het hy geantwoord. “Ek weet jy gaan hulle vestingstede aan die brand steek, hulle jongmans doodmaak, hulle kinders teen die grond doodslaan en dat jy hulle swanger vroue gaan oopsny.”

13. “Maar, Meneer, hoe kan ek wat eintlik niemand is nie, iets so verskrikliks doen?” het hy gevra.Elisa het geantwoord: “Die Here het aan my bekend gemaak dat jy die koning van Aram gaan word.”

14. Gasael is toe terug na Ben-Hadad toe. Ben-Hadad het gevra: “Wat sê Elisa?”“Hy sê u gaan beslis gesond word,” het Gasael geantwoord.

15. Maar die volgende dag het hy ’n laken gevat en dit natgemaak. Hy het toe die nat doek oor Ben-Hadad se gesig vasgedruk en hom versmoor.Daarna het Gasael in Ben-Hadad se plek koning van Aram geword.

16. Joram, die seun van koning Josafat, het die koning van Juda geword in die vyfde jaar wat koning Joram van Israel, ’n seun van Agab, regeer het.

17. Hy was 32 toe hy koning geword het en hy het agt jaar lank in Jerusalem regeer.

18. Hy was getroud met ’n dogter van Agab en het die slegte voorbeeld van die konings van Israel gevolg. Hy het dinge gedoen waarmee die Here nie tevrede was nie.

19. Ter wille van Dawid, wat ’n besondere verhouding met die Here gehad het, wou die Here Juda nie vernietig nie. Trouens, Hy het vir Dawid belowe dat daar altyd ’n koning uit sy nageslag in Juda sou regeer.

2 Konings 8