2 Konings 5:13-16 Die Boodskap (DB)

13. Sy offisiere het Naäman tot bedaring probeer bring. Hulle het versigtig met hom gepraat en gesê: “Meneer, as hy nou vir u gesê het om ’n baie moeilike ding te gaan doen, sou u dit tog gedoen het? Maar nou het hy ’n maklike opdrag gegee. Moet u nie maar gaan was soos hy gesê het om gesond te word nie?”

14. Naäman het toe na die Jordaanrivier toe afgedraai en hom sewe keer in die water gewas, soos Elisa gesê het. Hy het heeltemal gesond geword en sy vel was weer soos ’n jong seun s’n.

15. Naäman en sy hele gevolg het na Elisa toe teruggegaan. Hy het vir Elisa gesê: “Ek weet nou beslis dat Israel se God die enigste God op aarde is. Aanvaar asseblief die geskenk wat ek saamgebring het.”

16. Elisa het volstrek geweier. Hy het gesê: “Net so seker as wat ek is dat die Here wat ek dien, lewe, so seker is ek dat ek nooit die geskenk van jou sal aanvaar nie!” Hoe Naäman ook al by hom gepleit het, Elisa het die geskenk bly weier.

2 Konings 5