2 Konings 4:26-41 Die Boodskap (DB)

26. Draf haar tegemoet en vra hoe dit met haar en haar man en kind by die huis gaan.”Sy het net vir Gehasi gesê: “Dit gaan goed,”

27. maar verbygejaag na Elisa toe op die berg. Toe sy by hom kom, het sy voor hom op die grond geval en sy voete vasgegryp. Gehasi wou haar wegstoot van Elisa af, maar hy het gesê: “Los haar. Sy is baie ontsteld. Hier is groot fout, maar die Here het niks daarvan vir my gesê nie.”

28. “Ag, Meneer,” het sy gekerm, “het ek u gevra vir ’n seun? Nee, ek het gesê u moet my nie vals hoop gee nie.”

29. Elisa het vir Gehasi gesê: “Kry jou reg om dadelik te gaan! Vat my kierie saam. Jy moet met niemand op pad praat nie. Gaan reguit na die kind toe en sit my kierie op sy gesig neer.”

30. Die vrou het egter gesê: “So seker as die Here en u leef, ek sal nie huis toe gaan as u nie saamkom nie!” Elisa het toe saam met haar gegaan.

31. Gehasi het vinnig vooruitgegaan en Elisa se kierie op die kind se gesig neergesit. Niks het egter gebeur nie, daar was geen teken van lewe nie. Hy het teruggegaan na Elisa toe en gesê: “Die kind is nog steeds dood.”

32. Toe Elisa in die huis kom, was die situasie onveranderd. Die liggaampie het steeds op Elisa se bed gelê.

33. Hy het alleen in die kamer ingegaan en die deur gesluit. Toe het hy ernstig tot die Here gebid.

34. Hy het op die kind gaan lê. Hy het met sy kop op die kind se koppie, sy oë oor die kind se ogies en sy hande op die kind se handjies gaan lê. Geleidelik het die liggaampie weer warm geword.

35. Elisa het opgestaan en ’n keer in die kamer op en af geloop en toe weer op die kind gaan lê. Toe het die seun sewe keer genies en sy oë oopgemaak!

36. Elisa het dadelik vir Gehasi geroep en gesê: “Gaan haal gou die kind se ma!” Toe sy inkom, het hy vir haar gesê: “Hier is jou kind!”

37. Sy het dankbaar voor hom neergesak, die kind opgetel en hom ondertoe gedra.

38. Elisa is toe terug Gilgal toe. Daar was in dié tyd ’n hongersnood in daardie omgewing. Die dorp se profetegroep het by Elisa vergader. Hy het vir Gehasi gesê: “Sit ’n groot pot op die vuur en maak ’n bredie vir ons om te eet.”

39. Een van die manne het uitgegaan veld toe om te help kruie pluk vir die bredie. Hy het op ’n wilde rankplant met vrugte afgekom en ’n klomp daarvan gepluk. Hy het die vrugte in die bredie ingesny sonder dat hy geweet het wat dit was.

40. Toe die bredie gaar was, het hulle begin inskep. Maar toe hulle dit proe, het hulle uitgeroep: “Man van God! Dié kos is giftig!” en geweier om verder te eet.

41. Elisa het gesê: “Bring vir my ’n bietjie meel.” Hy het dit in die pot gegooi en gesê: “Nou is dit reg. Julle kan maar inskep,” en niemand het iets daarvan oorgekom nie.

2 Konings 4