2 Konings 17:7-19 Die Boodskap (DB)

7. Die ramp het Israel getref omdat hulle téén die wil van die Here hulle God opgetree het. Hy het hulle vrygemaak toe hulle in Egipte deur die farao onderdruk is, maar hulle het ander gode aanbid.

8. Hulle het die gebruike gevolg van die heidense volke wat deur die Here uit die land gejaag is om vir Israel plek te maak, gebruike wat gevolg is deur die konings van Israel.

9. Die Israeliete het al die tyd in die geheim dinge gedoen wat die Here nie goedgekeur het nie. Hulle het:heidense heiligdomme gebou waar hulle ook al gebly het, van die kleinste buitepos tot die grootste ommuurde stad;

10. op elke rantjie en onder al die groen bome klippilare en heilige Asjerapale ingeplant;

11. net soos die mense wat voor hulle in die land gewoon het, offers by die heilige plekke gebrand (só het hulle die Here al hoe kwater gemaak vir hulle);

12. vieslike afgode vereer, al het die Here uitdruklik gesê hulle mag dit nie doen nie.

13. Die Here het Israel én Juda deur profete en spesiale boodskappers gewaarsku: “Julle moet ophou met julle verkeerde dinge en na My toe terugkom. Wees gehoorsaam aan die wette en reëls wat Ek reeds lank gelede aan julle voorouers gegee het. Ek het dit weer deur die profete direk vir julle gegee.”

14. Maar hulle het nie geluister nie. Hulle was net so hardkoppig soos hulle voorouers en het ook nie in die Here hulle God geglo nie.

15. Hulle het:die Here se reëls verwerp;sy ooreenkoms met hulle voorouers verwerp;sy waarskuwings in die wind geslaan;nikswerd gode vereer en net so dwaas geword soos hulle;opgetree soos die volke rondom hulle, al het die Here hulle verbied om dit te doen.

16. Hulle het al die wette van die Here, hulle God, oortree deur:twee kalwerbeelde te laat maak;’n afbeelding van die godin Asjera te laat maak;voor die hemelgode neer te buig;die god Baäl te vereer;

17. hulle seuns en dogters in die vuur te offer;waarsêery te beoefen;die toekoms te voorspel.Só het hulle hulleself aan die boosheid oorgegee en die Here al hoe kwater vir hulle gemaak.

18. In sy woede het die Here besluit om Israel te vernietig. Al wat oorgebly het, was die stam van Juda.

19. Maar selfs Juda het nie gedoen wat die Here wou hê nie. Hulle het dieselfde dinge as Israel gedoen.

2 Konings 17