7. Die ander twee afdelings, wat op die sabbatdag verlof het, is verantwoordelik vir die tempel en die koning.
8. Julle is sy lyfwag en julle moet hom gedurig met julle wapens beskerm. As iemand by hom probeer uitkom, moet julle die persoon summier doodmaak.”
9. Die offisiere het presies gedoen wat Jojada, die priester, beveel het. Hulle het albei groepe soldate, dié wat op die sabbat aan diens is en dié wat dan van diens af gaan, bymekaargemaak. Hulle het almal by Jojada byeengekom.
10. Hy het vir hulle spiese en skilde gegee wat nog aan koning Dawid behoort het en wat nog altyd in die tempel van die Here gebêre was.
11. Die soldate het die wapens gevat en ’n halfsirkel om die koning gevorm. Die halfsirkel om hom het van die tempel se suidelike hoek, by die brandofferaltaar verby, tot by die noordelike hoek gestrek. So is die koning baie goed beskerm.
12. Toe alles gereed was, het Jojada die jong koning uitgebring. Hy het ’n kroon op sy kop gesit en die kroningsdokument vir hom gegee. Daarna het hulle olie op sy kop uitgegooi en hande geklap en hard uitgeroep: “Mag die koning lank lewe!” Só het hulle vir Joas koning gemaak.