24. Terwyl sy so by Dawid se voete op haar knieë staan, sê sy vir hom: “Dit is alles mý skuld, Meneer! Mag ek asseblief met u praat, en sal u so vriendelik wees om na my te luister?
25. U moet u tog nie steur aan daardie niksnut van ’n Nabal nie. Hy is net soos sy naam sê: ’n dwaas. Ek het regtig nie die jong manne gesien wat u gestuur het nie.
26. So waar as die Here leef en so waar as wat u leef, Meneer: dis die Here wat gekeer het dat u eie reg gebruik en ’n bloedbad veroorsaak. Ek is ook seker dit sal met u vyande, met almal wat u skade wil aandoen, gaan soos dit met Nabal gaan.
27. Hier is ’n geskenk wat ek vir u gebring het. Gee dit gerus vir die jong manne wat altyd by u is.
28. En vergewe asseblief die fout wat ek gemaak het. Die Here sal vir seker vir u ’n koningskap gee wat lank sal hou, want u moet die Here se oorloë veg. ’n Ramp sal u nooit tref nie;
29. en as daar mense is wat u agtervolg om u te probeer doodmaak, sal die Here u God u veilig by Hom hou soos ’n herder ’n klippie veilig in sy sak bêre. Maar die lewe van u vyande sal die Here weggooi soos ’n herder ’n klip met ’n slingervel weggooi.
30. Wanneer die Here vir u al die goeie dinge wat Hy u belowe, waar maak en u aanstel as die leier van Israel,
31. sal hierdie ding van Nabal nie in u pad wees nie, en sal u gewete u nie pla dat u eie reg gebruik en mense onskuldig doodgemaak het nie. En as die Here vir u al die mooi dinge waar gemaak het, dink tog dan aan hierdie nederige vrou.”
32. Daarop sê Dawid vir Abigajil: “Die Here, die God van Israel, moet geprys word dat Hy jou vandag na my toe gestuur het!