12. Dawid vra toe weer: “En sal die leiers van Keïla my en my manne aan Saul oorgee?”“Ja, hulle gaan julle oorgee,” antwoord die Here.
13. Dawid en sy manne, omtrent 600 van hulle, het gereedgemaak en padgegee uit Keïla en van plek tot plek rondgetrek. Toe Saul hoor dat Dawid uit Keïla weggekom het, het hy nie na die dorp opgetrek nie.
14. Dawid het in veilige plekke in die veld en in die berge van die Sifwoestyn gaan bly. Saul het dae lank na hom gesoek, maar God het nie vir Dawid aan hom oorgegee nie.
15. Dawid het gesien dat Saul daarop uit was om hom dood te maak.Toe Dawid in die Sifwoestyn in Goresa was,
16. het Jonatan, Saul se seun, na hom toe gekom. Jonatan het vir Dawid gesê om sterk te wees en op God te vertrou.
17. Hy het gesê: “Moenie bang wees nie. My pa sal jou nie in die hande kry nie. Jý is die een wat koning oor Israel gaan word. Ek sal onder jou wees. My pa weet dit sal so wees.”
18. Hulle twee het by ’n altaar van die Here ’n ooreenkoms met mekaar gemaak. Jonatan is daarna huis toe, maar Dawid het in Goresa gebly.
19. Daar het mense van Sif na Saul toe in Gibea gegaan en vir hom gesê: “U weet seker dat Dawid daar by ons wegkruip. Hy is in die veilige plekke by Goresa daar op die Gakilarant suid van die Jeshimonwoestyn.
20. As U Majesteit dan nou graag daarheen wil kom, kan u gerus kom. Ons sal sorg dat U majesteit hom in die hande kry.”
21. “Die Here sal nog goed wees vir julle omdat julle vir my omgee,” het Saul gesê.
22. “Gaan nou terug, dan maak julle weer doodseker: julle moet weet waar sy lêplek is, waar hy rondloop en wie hom gesien het. Hulle sê vir my hy is baie skelm.
23. Maak seker dat julle al die plekke waar hy wegkruip, goed ken. Kom dan terug na my toe met goeie inligting. As hy in die omgewing is, sal ek saam met julle gaan en hom uitsnuffel tussen al die mense van Juda.”
24. Die mense het teruggegaan Sif toe. Saul sou later daarheen gaan. Dawid en sy manne was in die Maonwoestyn in die Arabavlakte suid van die Jeshimonwoestyn.
25. Saul en sy manskappe het die soektog begin. Toe Dawid dit hoor, het hy afgegaan na die rotskop in die Maonwoestyn en daar gebly. Dit het by Saul uitgekom, en hy is agter Dawid aan, die Maonwoestyn in.
26. Saul het al langs die een kant van die kop getrek, terwyl Dawid aan die ander kant van die kop so al wat hy kan probeer om van Saul af weg te kom. Toe Saul en sy manne op die punt is om Dawid en sy manne te omsingel en hulle vas te trek,
27. kom daar ’n boodskapper by Saul aan en sê vir hom: “Maak baie gou, die Filistyne is besig met strooptogte in die land!”
28. Saul het toe opgehou om Dawid te probeer vang en teruggegaan om teen die Filistyne te veg. Dit is waarom hulle die plek Skeidingrots noem.