9. Salomo, my seun, leer die God van jou voorouers goed ken. Vereer en dien Hom met jou hele lewe en met ’n gewillige gemoed, want die Here weet wat in ’n mens se gedagtes aangaan en Hy verstaan jou planne. As jy Hom soek, sal Hy toelaat dat jy Hom vind, maar as jy van Hom af wegdraai, sal Hy jou vir altyd verwerp.
10. Luister nou mooi: die Here het jou gekies om die tempel as heiligdom vir Hom te bou. Spring dadelik aan die werk!”
11. Dawid het vir Salomo ’n bouplan gegee van die pilaargang met al die geboue wat daarmee saamgaan: die voorraadkamers, solderkamers, binnekamers en binneste heiligdom waar die ark se deksel sou kom.
12. Dit was ’n grondplan van alles wat hy vir die tempel beplan het: van die pilaargange van die tempel, die stoorkamers vir skatte en buit wat aan die Here gewy mag word,
13. tot by die plekke vir die priesters en Leviete wat in die tempel moes werk en vir al die gereedskap wat nodig kon wees vir hulle diens.
14. Dawid het ook presies vir Salomo gesê hoeveel goud en silwer hy nodig sou hê vir al die verskillende soorte gereedskap.
15. Hy het ook vir hom gesê presies hoeveel goud nodig sou wees vir die goue kandelaars met hulle goue lampe, en hoeveel silwer vir die silwerkandelaars met hulle lampe.
16. Hy het ook vir hom gesê hoeveel goud nodig sou wees vir die tafels met die offerbrood, en hoeveel silwer vir die silwertafels;
17. ook hoeveel goud vir die vurke, komme en kanne van suiwer goud, die hoeveelheid goud en silwer vir elke goue beker en elke silwerbeker;
18. asook die hoeveelheid gesuiwerde goud vir die wierookaltaar, en die hemelwesens van goud wat die verbondsark van die Here met hulle vlerke moes bedek.
19. Dawid het vir Salomo gesê: “Ek weet al hierdie dinge omdat die Here dit aan my bekendgemaak het.