1 Kronieke 26:15-28 Die Boodskap (DB)

15. Die suidpoort is toegewys aan Obed-Edom, en die voorraadgebou aan sy seuns.

16. Die wespoort is aan Suppim en Gosa toegewys, asook die Salleketpoort op die boonste pad.Die wagbeurte is só ingedeel dat daar

17. ses Leviete by die oospoort was, vier elke dag by die noordpoort, vier elke dag by die suidpoort en elke keer twee by die voorrade.

18. Ses Leviete is elke dag by die wespoort geplaas: vier langs die pad en twee by die plein.

19. Dit was die poortwaggroepe. Hulle was uit die Korag- en die Merarifamilie.

20. Ander Leviete onder leiding van Agija was in beheer van die skatkamers van die tempel en die stoorkamers.

21. Uit die nageslag van Ladan, ’n lid van die Gersonfamilie, was Jegiël die leier.

22. Jegiël se seuns was Setam en sy broer Joël. Dit was hulle taak om die skatte in die huis van die Here op te pas.

23. Hier volg ’n lys van die mense wat van Amram, Jishar, Hebron en Ussiël afgestam het.

24. Die Amramgroep: Subael was ’n afstammeling van Moses se seun Gersom. Subael was die hoof oor die tempelskatte.

25. Sy kollegas het hulle afkoms teruggevoer na Eliëser deur Regabja, Jesaja, Joram, Sikri en Selomit.

26. Hierdie Selomit en sy kollegas was die amptenare wat toesig gehou het oor die stoorkamers waarin al die goed gebêre is wat deur koning Dawid, die familiehoofde, die hoër en laer offisiere en die leërhoofde vir die Here gegee is.

27. Hulle het ’n deel van hulle oorlogsbuit gegee om die huis van die Here te help onderhou.

28. Selomit-hulle het beheer gehad oor alles wat Samuel, die siener, Saul seun van Kis, Abner seun van Ner en Joab seun van Seruja, aan die Here gewy het en oor alle ander items wat gewy is.

1 Kronieke 26