6. Het Ek ooit vir enigeen van die leiers wat Ek oor Israel aangestel het, gevra: Waarom bou jy nie vir My ’n sederhouttempel nie?
7. “Gaan sê vir my kneg Dawid: Hier is die Here, die Groot Bevelvoerder, se boodskap vir jou: Ek het jou self gaan haal waar jy ’n herder met jou skape in die veld was en jou leier gemaak van Israel, my volk.
8. Ek was altyd by jou, waar jy ook al was en Ek het jou vyande vir jou verslaan. Ek sal jou so beroemd maak soos die beroemdste mense op aarde
9. en Ek sal vir Israel ’n land gee waar hulle rustig kan woon. Hulle vyande sal hulle nie meer teister soos vroeër
10. toe Ek rigters aangestel het om hulle te lei nie. Ek sal ook al jou vyande onderdruk.“Ek maak ook nou bekend dat die Here vir jou ’n huis, ’n koningsdinastie, sal opbou.
11. Wanneer jy die dag sterf, sal Ek jou opvolger aanwys. Hy sal een van jou seuns wees en Ek sal sy koningskap sterk maak.
12. Dit sal hy wees wat vir My ’n huis sal bou en Ek sal sorg dat sy koningskap vir altyd veilig is.
13. Ek sal sy Pa wees en hy sal my seun wees. Ek sal nie my ondersteuning aan hom onttrek, soos Ek met jou voorganger gedoen het nie.
14. Ek sal hom vir altyd laat regeer en mense uit sy nageslag sal altyd koning wees.”
15. Natan het toe na Dawid toe teruggegaan en alles wat die Here vir hom gesê het, aan Dawid oorvertel.
16. Dawid het in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek en my familie, o Here God, dat U my so ver gebring het?
17. O God, nou praat U ook nog van ’n koningshuis wat nooit sal eindig nie wat U vir my sal gee! U praat asof ek iemand groots is, o Here God.
18. Wat kan ek nou vir U sê nadat U my, wat u dienaar is, so hoog vereer het? U ken my baie goed.
19. Here, omdat U my liefhet en omdat U dit so wil hê, het U al hierdie groot dinge gedoen en dit bekendgemaak.
20. “O Here, daar is niemand soos U nie. Alles wat ons gehoor het, bevestig dit: daar is geen God behalwe U nie!
21. Watter ander volk op aarde is soos u volk, Israel? Waar het ’n god al ooit soveel vir ’n volk gedoen deur hulle uit slawerny te bevry en hulle sy eiendom te maak? U het groot en skrikwekkende dinge vir ons gedoen en so deur die hele wêreld bekend geword. U het hulle uit Egipte laat trek en ander volke voor hulle uit verdryf.