8. Salomo se woonhuis is teen die agterste muur van die troonsaal gebou. Dit was min of meer dieselfde grootte as die troonsaal en het dieselfde afwerking as die ander geboue gehad. Vir die farao se dogter met wie hy getroud was, het hy ’n huis volgens die plan van die troonsaal gebou.
9. Al die geboue is van die fondament tot die dak met ’n baie duursame klip gebou. Die gedeelte van die straat tot by die groot voorhof is ook met hierdie klip geplavei. Dit is vooraf in die steengroef volgens maat gekap en toe baie netjies met ’n saag aan alle kante afgewerk.
10. Die fondamente is met groot klippe van vier meter en vyf meter gebou. Hierdie duursame klippe is ook in die steengroewe gekap en voorberei.
11. Bo-op hierdie klippe is ander klippe, wat presies volgens maat gekap is, asook stroke sederhout, gesit.
12. Die mure rondom die groot voorhof het uit drie lae gekapte klip en een ry sederhoutbalke bestaan. Die mure van die binneste voorhof van die tempel, asook die paleis se voorportaal, is op dieselfde manier gebou.
13. Koning Salomo het ’n man met die naam Hiram gehuur. Hy het in Tirus gebly en was ’n uitstekende vakman. Hy het veral in bronswerk gespesialiseer.