1 Konings 20:13-28 Die Boodskap (DB)

13. Intussen het ’n profeet na koning Agab toe gekom en gesê: “Meneer, die Here sê u hoef nie bang te wees vir die rumoerige skare daaronder nie. Hy sal u vandag laat wen en u sal besef dat die Here die enigste God is.”

14. “Hoe moet die aanval verloop en wie moet die geveg begin?” het Agab gevra. “Stuur eers die jong soldate van die streekshoofde in,” het die profeet gesê. “Wie moet dan gaan?” het Agab gevra. “Dan volg u met die groot leërmag,” het die profeet gesê.

15. Agab het toe eers die 232 jong soldate van die streekshoofde opgeroep en daarna ’n volksleër van 7 000 man saamgestel.

16. Die aanval het teen die middag begin terwyl Ben-Hadad en sy bondgenote dronk in die tente gelê het.

17. Eers het die jong soldate uit Samaria getrek en die voorste gevegslinie gevorm. Dit was toe dat Ben-Hadad se verkenners onraad bemerk en vir hom gaan sê: “’n Groep soldate het uit Samaria getrek en hulle is op pad na ons toe.”

18. “Gaan vang hulle,” het Ben-Hadad dronk en deurmekaar gesê. “Of hulle nou kom om te veg of om vrede te sluit, gaan vang hulle en bring hulle lewendig hiernatoe.”

19. Intussen het die groot volksleër ook uit die stad begin beweeg en agter die jong soldate stelling ingeneem.

20. Toe het die geveg begin. Agab se manne het uitstekend geveg en hulle teëstanders man vir man uitgewis. Die Arameërs moes naderhand vlug. Israel het hulle agternagesit. Ben-Hadad was gelukkig om op ’n perd saam met ’n klompie ruiters weg te kom.

21. Alles was gou verby. Toe Agab by die gevegsterrein aankom, het hy ’n groot klomp perde en waens van die vyand gevat. So het Agab op dié dag ’n oorwinning oor die Arameërs behaal.

22. Die profeet het weer vir Agab gesê: “Vandag het dit baie goed gegaan, maar moenie te gerus wees nie. Teen volgende jaar se lente sal die Arameërs weer kom. Beplan dus baie goed en versterk u leërmag.”

23. Koning Ben-Hadad se manne het hom ook raad gegee: “Ons moet liewer in die vlaktes veg,” het hulle gesê. “Israel het gewen omdat hulle ’n berggod aanbid. As ons op die vlaktes veg, sal dit baie beter gaan.

24. Vervang onmiddellik die 32 konings en stel veggeneraals in hulle plek aan.

25. Bou vir u ’n groot weermag op. Kry net soveel soldate, perde en waens as wat u in die slag teen Israel verloor het. Laat ons dan op die vlaktes gaan veg sodat ons kan wen.” Koning Ben-Hadad het na hulle geluister.

26. Die volgende jaar het Ben-Hadad toe sy groot leërmag opgeroep om teen Israel te gaan veg. Hulle het tot by die vlaktes van Afek getrek.

27. Die leër van Israel het bymekaargekom en hulle vir die slag voorberei. Hulle het na Afek toe getrek en daar in twee groepe verdeel. Elke groep het teenoor die Arameërs stelling ingeneem. Hulle was klein teenoor die magtige Aramese leër en het soos twee klein troppe bokke gelyk.

28. ’n Profeet het vir Agab gaan sê: “Luister mooi wat die Here vir u sê: ‘Die Arameërs sê mos dat Ek ’n berggod is en nie ’n god wat op die vlaktes iets kan doen nie. Daarom gee ek vandag hierdie rumoerige spul Arameërs in jou hand. Jy sal vandag weer besef dat Ek werklik die Here is.’”

1 Konings 20