Numeri 32:22-28 Bybel vir Almal (ABA)

22. Nadat die Here vir julle en die ander Israeliete gehelp het om die land te oorwin, kan julle terugkom, want dan het julle gedoen wat julle vir die Here en vir die ander Israeliete moes doen. Hierdie land sal dan aan julle behoort, die Here gee dit vir julle.

23. Maar as julle nie doen wat julle nou belowe nie, dan doen julle sonde teen die Here, en Hy sal dit weet.

24. Julle mag stede bou vir julle kinders en oumense, en krale vir julle skape en bokke, maar julle moet doen wat julle belowe het.”

25. Die mense van die Gad-stam en die Ruben-stam het vir Moses gesê: “Ons sal doen wat Meneer sê.

26. Ons kinders en oumense, ons vroue, ons skape en bokke, al ons diere, sal hier in die stede van Gilead bly,

27. maar ons self sal oorgaan, elkeen sal sy wapens vir die oorlog saamneem, soos Meneer sê. Die Here sal dit sien.”

28. Moses het toe vir die priester Eleasar en vir Josua seun van Nun en vir die familiehoofde van die stamme van Israel gesê wat hulle moet doen met die Gad-stam en die Ruben-stam.

Numeri 32