Numeri 14:21-37 Bybel vir Almal (ABA)

21. maar so seker soos Ek lewe, so seker soos Ek Koning is van die hele aarde,

22. hierdie mense het gesien dat Ek die Koning is, hulle het die tekens gesien wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, maar hulle het My tien maal getoets en hulle het nie na My geluister nie.

23. Daarom sal nie een van hulle die land sien wat Ek aan hulle voorvaders belowe het nie. Nie een van die mense wat gewys het dat Ek nie vir hulle belangrik is nie, sal die land sien nie.

24. Maar my dienaar Kaleb was anders, hy het aangehou om in My te glo. Ek sal hom na die land bring waarnatoe hy gegaan het, en die land sal aan sy nageslag behoort.

25. Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die lae deel van die land. Julle moet môre wegdraai en verder in die woestyn ingaan op die pad na die Riet-see.”

26. Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

27. “Hierdie slegte volk hou aan om My te beskuldig. Ek het gehoor dat die Israeliete My beskuldig,

28. en julle moet vir hulle sê: So seker soos Ek lewe, Ek het gehoor wat julle gewens het, en dit is wat Ek sal laat gebeur:

29. Julle dooie liggame sal in hierdie woestyn lê, almal wie se name in die boek geskryf is, almal wat ouer as 20 jaar is en wat My beskuldig het.

30. Ek het belowe dat julle in daardie land sal woon, maar julle sal nie daar kom nie, net Kaleb seun van Jefunne en Josua seun van Nun sal daar kom.

31. En julle kinders? Julle het gesê dat die vyande hulle sal vat. Maar Ek sal húlle daar bring, húlle sal die land ken wat vir júlle nie belangrik was nie.

32. Maar julle, julle dooie liggame sal in hierdie woestyn lê,

33. en julle kinders sal 40 jaar lank skape en bokke moet oppas in die woestyn. Julle was ontrou, en daarom sal hulle swaarkry, totdat al julle dooie liggame in die woestyn lê.

34. Julle het manne gestuur om 40 dae lank te kyk hoe die land lyk, en Ek sal julle ’n jaar lank straf vir elke dag. Julle sal 40 jaar lank die straf moet dra vir julle sonde, julle sal weet dat Ek kwaad is vir julle.

35. Ek, die Here, het gepraat. Ek sal dit doen aan hierdie slegte volk wat in hierdie woestyn opstandig was teen My. Hulle sal almal hier sterf.”

36. Moses het manne gestuur om te gaan kyk na die land. Die manne het teruggekom en hulle het vals stories oor die land vertel. Hulle het die hele volksvergadering opstandig gemaak teen Moses en hulle het vir Moses beskuldig.

37. Daardie manne wat die vals stories vertel het, het almal gesterf van die pes wat die Here gestuur het.

Numeri 14