Nehemia 5:15-19 Bybel vir Almal (ABA)

15. Die goewerneurs wat voor my hier was, het die mense laat swaarkry. Hulle het elke dag brood en wyn van elke persoon gevat. Die brood en wyn het 40 sikkels silwer gekos. En die manne wat vir die goewerneurs gewerk het, het ook die mense baie swaar laat kry. Maar ek het dit nie gedoen nie, want ek het die Here gerespekteer.

16. Almal moet ook weet dat ek al my krag gegee het vir die werk om hierdie muur te bou. Ek het nie grond gekoop nie, en die manne wat vir my werk, het almal gehelp om die muur te bou.

17. Daar het 150 persone van die Judeërs en hulle leiers by my geëet, en ook mense van die volke rondom ons wat na ons toe gekom het.

18. Ek het elke dag ’n bees en ses vet skape laat slag en ek het ook hoenders laat gaarmaak, en elke tiende dag het ek ook baie wyn vir almal gegee. Maar ek het nie die geld gevra wat ’n goewerneur kon kry om kos te koop nie, want hierdie volk moes hard werk.

19. My God, U moet goed wees vir my omdat ek al hierdie dinge gedoen het vir hierdie volk.

Nehemia 5