Nehemia 13:6-15 Bybel vir Almal (ABA)

6. Ek was in daardie tyd nie in Jerusalem nie, want ek het teruggegaan na koning Artasasta van Babel. Dit was in die 32ste jaar nadat Artasasta koning geword het. Maar ná ’n tyd het ek vir die koning gevra of ek na Jerusalem mag gaan.

7. Toe ek in Jerusalem kom, het ek gehoor dat Eljasib ’n verkeerde ding gedoen het. Eljasib het vir Tobija ’n kamer gegee langs die oop stuk grond by die tempel.

8. Ek het gedink dit is baie verkeerd. Ek het Tobija se goed uit die kamer gegooi

9. en ek het gesê die priesters moet die kamers reinig. Daarna het ek die tempel-gereedskap daar teruggesit en ook die koring en die wierook.

10. Ek het gehoor dat die Leviete nie kos gekry het nie, en dat hulle teruggegaan het na hulle grond om daar te werk. Die Leviete en die mense wat gesing het, moes die werk by die tempel doen.

11. Ek het met die leiers geraas en vir hulle gesê: “Hoekom het julle nie die tempel netjies gehou en reggemaak nie?”Ek het die Leviete laat terugkom en ek het hulle weer daar laat werk.

12. Al die mense van Juda het toe weer die tiendes van koring, wyn en olyf-olie na die stoorkamers gebring.

13. Ek het mense gekies en aangestel oor die stoorkamers. Hulle moes die tiendes verdeel tussen die Leviete. Dit was die priester Selemja en die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja. Ganan seun van Sakkur seun van Mattanja moes hulle help. Ek het geweet hulle sal die werk goed doen.

14. Ek het gebid en gesê: “My God, U moet onthou wat ek gedoen het. Ek het gedoen wat ek moes doen vir die tempel van my God en vir die werk daar, U moenie dit vergeet nie.”

15. Ek het in daardie tyd in Juda gesien dat mense op die Sabbatdag werk. Hulle het die parskuipe getrap en ander mense het vragte koring op donkies gelaai en ook wyn en druiwe en vye en ander goed. Hulle het dit in Jerusalem ingebring op die Sabbatdag. Ek het vir hulle gesê hulle mag nie op die Sabbatdag goed verkoop nie.

Nehemia 13