15. Jesus sê toe vir hulle: “Die vriende van die bruidegom kan nie rou wanneer die bruidegom nog by hulle is nie. Maar daar sal ’n tyd kom wanneer die bruidegom weg sal wees, dan sal hulle vas.
16. Niemand maak ou klere reg met ’n stuk lap wat nog nie gekrimp het nie. Wanneer iemand dit doen, dan sal die nuwe lap krimp en die ou materiaal sal ook skeur, en dan sal die skeur groter word.
17. Niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan sal die wyn die sakke laat oopbars. Dan verloor hy die wyn én die velsakke. Nee, ’n mens moet nuwe wyn in nuwe sakke gooi, dan sal hy nie die sakke of die wyn verloor nie.”
18. Jesus was besig om met hulle te praat, toe kom daar een van die leiers van daardie stad na Hom toe. Hy het voor Jesus gekniel en vir Hom gesê: “My dogter het nou gesterf. Maar as U kom en u hand op haar sit, dan sal sy weer lewe.”