Matteus 27:38-58 Bybel vir Almal (ABA)

38. Die soldate het twee mense saam met Jesus gekruisig, een regs langs Hom, en die ander een links langs Hom. Hulle was mense wat teen die regering geveg het.

39. Die mense wat daar verbygeloop het, wou vir Jesus verneder. Hulle het gewys dat hulle bly is oor wat met Hom gebeur het en

40. hulle het gesê: “Jy het gesê jy sal die tempel afbreek en dit weer in drie dae bou. As jy die Seun van God is, red jouself nou en klim van die kruis af!”

41. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het ook so aangehou om vir Jesus te spot. Hulle het gesê:

42. “Hy het ander mense gered, maar hy kan homself nie red nie! Hy sê hy is die Koning van Israel. Hy moet nou afklim van die kruis, dan sal ons in hom glo!

43. Hy glo God sal hom red. God moet hom nou red as Hy dit wil doen, want Jesus het gesê: ‘Ek is die Seun van God.’ ”

44. Die twee mense wat saam met Jesus aan die kruise gehang het, het ook vir Jesus op dieselfde manier gespot. Hulle was mense wat teen die regering geveg het.

45. Omtrent twaalfuur die middag het dit donker geword in die hele land en dit was donker tot drie-uur.

46. Omtrent drie-uur het Jesus baie hard geroep: “Eli, Eli, lema sabagtani?” Dit beteken “My God, my God, hoekom het U My gelos?”

47. Party van die mense wat daar gestaan het, het dit gehoor en hulle het gesê: “Hierdie man roep vir Elia!”

48. Een van hulle het dadelik gehardloop en ’n spons geneem en hy het dit vol suur wyn gemaak. Hy het dit op ’n dik riet gesit en vir Jesus probeer gee sodat Hy dit kon drink.

49. Maar die ander mense het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia kom om hom te red.”

50. Jesus het weer hard geskree en Hy het gesterf.

51. Die gordyn in die tempel het van bo tot onder geskeur. Dit was toe twee stukke. God het die aarde laat bewe en Hy het die rotse laat oopskeur.

52. God het ook die grafte laat oopgaan en Hy het baie gelowiges wat gesterf het, weer laat lewe,

53. en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Nadat Jesus weer begin lewe het, het hulle in Jerusalem, die gewyde stad, ingegaan, en baie mense het hulle gesien.

54. Die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus opgepas het, het die aardbewing gesien en alles wat gebeur het. Hulle was toe baie bang en hulle het gesê: “Hierdie man was regtig die Seun van God!”

55. Daar was baie vroue wat ’n bietjie verder gestaan en kyk het. Hulle het van Galilea saam met Jesus gekom om vir Hom te sorg.

56. Maria Magdalena en Maria ma van Jakobus en Josef was daar, en ook die vrou van Sebedeus.

57. Dit was al laat en amper aand. Daar kom toe ’n ryk man van die stad Arimatea. Sy naam was Josef. Hy was self ook ’n dissipel van Jesus.

58. Josef het na Pilatus toe gegaan en hy het gevra of hy Jesus se liggaam kan kry. Toe het Pilatus gesê die soldate moet Jesus se liggaam vir Josef gee.

Matteus 27