Matteus 26:40-53 Bybel vir Almal (ABA)

40. Jesus het teruggekom na die drie dissipels toe en toe sien Hy hulle slaap. Hy het vir Petrus gevra: “Hoekom kon julle nie een uur saam met My wakker bly nie?

41. Julle moet wakker wees en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie. Die mens se gees wil graag doen wat reg is, maar die mens self is te swak om reg te doen.”

42. Jesus het weer, vir die tweede maal, weggegaan en gebid: “My Vader, as U nie hierdie swaarkry wil wegneem van My nie, as Ek hierdie beker moet drink, dan moet U doen wat U wil hê.”

43. Toe Jesus terugkom, het Hy weer gesien die drie dissipels slaap, hulle kon nie wakker bly nie.

44. Jesus het weer weggegaan van hulle. Hy het die derde maal gaan bid en Hy het dieselfde woorde gesê.

45. Toe Jesus die derde maal by die dissipels kom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Kyk, dit is nou die tyd wanneer iemand My, die Seun van die mens, sal verraai, sodat sondaars My kan vang.

46. Staan op, ons moet gaan. Die man wat My sal verraai, is hier naby.”

47. Judas het daar aangekom terwyl Jesus gepraat het. Judas was een van die twaalf dissipels. Daar was ’n groot klomp mense saam met hom. Hulle het swaarde en stokke by hulle gehad. Die priesterleiers en die familieleiers van die volk het hulle gestuur.

48. Judas het vir Jesus verraai. Hy het voor daardie tyd vir die mense gesê wat hy sal doen om vir hulle te wys wie Jesus is. Hy het gesê: “Ek sal ’n man soen, dit is Jesus. Julle moet Hom vang.”

49. Toe Judas daar aankom, gaan hy dadelik na Jesus toe en sê vir Hom: “Goeienaand, Meneer!” en hy soen vir Jesus.

50. Jesus het vir hom gesê: “My vriend, jy het kom doen wat jy moes doen.”Die mense wat saam met Judas was, het gekom en hulle het vir Jesus gegryp en Hom gevang.

51. Een van die mense wat by Jesus gestaan het, het sy swaard gegryp en hy het dit uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester se oor met die swaard afgekap.

52. Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug op sy plek, want die mense sal almal wat met die swaard veg, ook met die swaard doodmaak.

53. Weet jy nie, Ek kan my hemelse Vader vra om My te help, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele stuur om My te help.

Matteus 26