Matteus 14:19-36 Bybel vir Almal (ABA)

3-4. Herodes het voor daardie tyd soldate gestuur om vir Johannes die Doper te vang en te boei en in die tronk toe te sluit. Herodes het dit gedoen omdat Johannes aangehou het om vir hom te sê hy mag nie trou met Herodias, sy broer Filippus se vrou nie.

19. Hy het vir al die mense gesê hulle moet op die gras gaan sit. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee, en die dissipels het dit vir die mense gegee.

20. Almal het genoeg geëet, en hulle het twaalf mandjies vol stukkies kos opgetel wat oorgebly het.

21. Daar was baie mense wat geëet het. Die mans was omtrent 5 000. Daar was ook nog vroue en kinders.

22. Daarna het Jesus vir die dissipels gesê hulle moet dadelik in die boot klim en voor Hom na die ander kant van die see gaan. Hy wou eers vir die mense sê hulle moet huis toe gaan.

23. Nadat Jesus al die mense huis toe gestuur het, het Hy alleen teen die berg opgegaan om te bid. Dit het donker geword en Jesus was alleen daar.

24. Die boot was toe ver van die land. Die branders het die boot rondgegooi, want die wind het sterk van voor gewaai.

25. Vroeg die volgende oggend, voordat dit lig geword het, het Jesus na hulle toe gekom. Hy het op die see geloop.

26. Toe sy dissipels Hom op die water sien loop, het hulle baie bang geword en gesê: “Dit is ’n spook!”Hulle was baie bang, en hulle het hard geskree.

27. Jesus het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Toemaar, dit is Ek! Moenie bang wees nie.”

28. Petrus sê toe vir Jesus: “Here, as dit U is, sê dan ek moet op die water na U toe loop.”

29. Jesus het vir hom gesê: “Kom!”Petrus het uit die boot geklim, en toe het hy op die water geloop na Jesus toe.

30. Maar toe Petrus sien die wind is sterk, het hy bang geword. Hy het begin sink en hy het geskree: “Here, red my!”

31. Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en Hy het hom gegryp en vir hom gesê: “Hoekom is jou geloof so min, hoekom het jy begin twyfel?”

32. Hulle het in die boot geklim, en die wind het opgehou waai.

33. Die mense wat in die boot was, het voor Jesus gekniel en vir Hom gesê: “Waarlik, U is die Seun van God.”

34. Jesus en die dissipels het na die ander kant van die see gegaan, en by die stad Gennesaret afgeklim van die boot.

35. Toe die mense van Gennesaret sien dit is Jesus, het hulle boodskappers gestuur om vir die mense daar naby te vertel dat Jesus daar is. Hulle het al die siek mense na Jesus toe gebring.

36. Hulle het vir Jesus gevra of die siek mense aan die soom van sy bo-kleed mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.

Matteus 14