24. Kort daarna het sy vrou Elisabet swanger geword, en sy het vyf maande lank nie uit die huis gegaan nie. Sy het gesê:
25. “Die Here het my gehelp, Hy het gesien ek is hartseer. Hy het geweet die mense spot my omdat ek nie kinders het nie. Nou het Hy dit verander, niemand sal my nou meer spot nie.”
26. Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël gestuur na die stad Nasaret in Galilea.
27. God het hom gestuur na ’n meisie wat verloof was aan Josef. Josef was ’n man van die nageslag van koning Dawid. Die meisie se naam was Maria, en sy was ’n maagd.