5. Hy moet twee bok-ramme neem van die volksvergadering van die Israeliete, dit is om sonde-offers te wees en hy moet een skaap-ram neem om ’n brand-offer te wees.
6. Aäron moet dan die bul offer, dit is ’n sonde-offer vir sy sondes, en hy moet versoening doen vir homself en vir sy huisgesin.
7. Daarna moet hy die twee bokke neem en hy moet hulle voor die Here laat staan by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.
8. Dan moet Aäron lootjies trek oor die bokke, een bok is vir die Here en een bok is vir Asasel.
9. Aäron moet dan die Here se bok nader bring, en hy moet dit offer om ’n sonde-offer te wees.
10. Hy moet die bok vir Asasel lewendig voor die Here laat staan sodat hy op die bok versoening kan doen. Dan moet hy die bok vir Asasel in die woestyn stuur.
11. Aäron moet dan die bul nader bring wat ’n sonde-offer vir homself is en hy moet versoening doen vir homself en vir sy huisgesin. Hy moet die bul slag wat ’n sonde-offer vir homself is.
12. Hy moet ’n pan vol vuurkole neem van die altaar voor die Here, en hy moet ’n handvol fyn wierook neem wat lekker ruik. Hy moet dit na agter die gordyn neem.
13. Daar moet hy die wierook op die vuurkole sit sodat die wierook ’n rookwolk maak. Die rook sal die deksel toemaak wat op die kis is waarin die tien gebooie is. As die wolk nie die deksel toemaak nie, dan sal Aäron sterf.
14. Hy moet dan van die bul se bloed neem en hy moet dit met sy vinger spat teen die voorkant van die deksel. Hy moet sewe maal van die bloed teen die deksel spat.
15. Daarna moet Aäron die bok slag wat ’n sonde-offer vir die volk is. Hy moet die bloed van die bok neem na agter die gordyn, en hy moet dieselfde doen met die bok se bloed soos hy gedoen het met die bul se bloed. Hy moet die bloed spat teen die voorkant van die deksel.