18. Daarna moet hy uitgaan na die altaar wat voor die Here is en hy moet daarop versoening doen. Hy moet van die bul en die bok se bloed neem en hy moet dit smeer aan die horings van die altaar.
19. Hy moet sewe maal van die bloed teen die altaar spat. So moet hy die altaar reinig en so moet hy die altaar wy.
20. Wanneer hy klaar versoening gedoen het vir die gewyde kamer en vir die tent en die altaar, dan moet hy die bok wat nog lewe, nader bring.
21. Hy moet altwee sy hande op die bok se kop sit en hy moet daarop alles bely wat die Israeliete verkeerd gedoen het, al hulle sondes. So moet hy die sondes op die bok se kop sit en dan moet hy ’n persoon stuur wat die bok na die woestyn moet neem.
22. Die bok moet al die sondes van die volk wegdra na die woestyn, en die persoon moet die bok in die woestyn los.
23. Daarna moet Aäron kom na die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hy moet die linne-klere uittrek wat hy aangetrek het toe hy in die gewyde kamer ingegaan het en hy moet die klere daar neersit.