34. “Ek sal vir julle die land Kanaän gee om aan julle te behoort. Wanneer julle in die land kom en Ek laat ’n swam groei teen die mure van ’n huis in daardie land,
35. dan moet die persoon kom aan wie die huis behoort, en hy moet vir die priester sê: ‘Ek sien daar is iets soos ’n swam teen my huis se mure.’
36. Die priester moet dan sê hulle moet alles uit die huis neem voordat hy na die swam gaan kyk. Dan sal alles wat in die huis is, nie onrein word nie. Daarna moet die priester gaan kyk na die swam.
37. As hy sien die swam teen die huis se muur is groen of rooi en dit lyk of dit dieper is as die muur,
38. dan moet die priester uit die huis gaan en hy moet die huis sewe dae lank toesluit.
39. Wanneer die priester op die agste dag terugkom en hy sien die swam het groter geword teen die huis se muur,
40. dan moet die priester sê hulle moet die klippe waarop die swam is, uithaal en hulle moet dit weggooi op ’n onrein plek buite die stad.
41. Hulle moet die klei aan die binnekant van die huis se mure afkrap en hulle moet dit weggooi op ’n onrein plek buite die stad.
42. Hulle moet dan ander klippe in die muur sit en hulle moet ander klei neem en die mure weer regmaak.
43. Daar sal miskien weer ’n swam groei nadat hulle die klippe uitgebreek het en die klei afgekrap het en die muur weer reggemaak het.
44. As die priester kom kyk en hy sien die swam is daar, dan is dit ’n slegte swam wat groei, dit is onrein.
45. Dan moet hulle die hele huis afbreek en hulle moet die klippe en die klei weggooi op ’n onrein plek buite die stad.
46. As die priester die huis toegesluit het, en iemand gaan in die huis in, dan is hy onrein tot die aand.
47. Iemand wat in die huis slaap of eet, moet sy klere was.
48. Nadat hulle die huis reggemaak het, moet die priester kom kyk. As hy sien die swam het nie weer teen die huis se muur gegroei nie, moet die priester sê die huis is rein, want die swam is weg.
49. As die priester die huis wil reinig, moet hy twee voëls neem en ’n stukkie sederhout en rooi garing en ’n hisop-takkie.