Levitikus 11:10-23 Bybel vir Almal (ABA)

10. Maar as die diere wat in die see en in die riviere is, nie vinne en skubbe het nie, dan mag julle niks eet van hulle nie, niks van al die baie klein diertjies wat in die water lewe nie.

11. Julle mag nooit van hulle eet nie. Julle mag nie hulle vleis eet nie en julle mag nie aan hulle dooie liggame raak nie.

12. Julle mag nie iets eet wat nie vinne en skubbe het nie.

13-19. “Julle mag nie van hierdie voëls eet nie, julle moenie aan hulle raak nie: arende, aasvoëls, vis-arende, valke, kraaie, volstruise, seemeeue, uile, pelikane, visvangers, duikers, ooievaars, reiers en hoep-hoepe. Julle mag ook nie vlermuise eet nie,

20. ook nie die klein diertjies wat vlerke en pote het nie.

21. Maar julle mag eet van die klein diertjies wat vlerke en pote het, as die diertjies kan spring.

22. Hierdie diertjies wat julle mag eet, is al die soorte sprinkane.

23. Julle mag nie raak aan die ander diertjies wat vlerke en pote het nie.

Levitikus 11