5. “Maria het nou hierdie duur olie gemors. Ons kon dit verkoop het vir 300 silwer geldstukke en dan kon ons die geld vir die arm mense gegee het.”
6. Maar Judas was nie regtig bekommerd oor die arm mense nie. Hy was ’n dief. Hy het die sak gedra waarin Jesus en die dissipels se geld was en hy het baie maal van die geld gesteel.
7. Jesus het gesê: “Nee, Judas, los vir Maria! Sy het die olie gebêre om My nou te salf soos die mense My sal salf wanneer hulle My begrawe.
8. Die arm mense sal altyd by julle wees, maar Ek sal nie altyd by julle wees nie.”
9. Baie Jode het gehoor dat Jesus in die dorpie Betanië is. Hulle het toe na Betanië gegaan. Hulle wou vir Jesus sien, maar hulle wou ook graag vir Lasarus sien. Dit is Lasarus wat dood was, maar Jesus het hom weer laat lewe.
10. Die priesterleiers het besluit om Lasarus ook dood te maak,
11. want baie van die Jode het gehoor dat Jesus vir Lasarus weer laat lewe het, en hulle het in Jesus geglo. Hulle het nie meer soos die ander Jode gedink nie.
12. Die volgende dag het die mense gehoor dat Jesus na Jerusalem kom. Daar was baie mense in Jerusalem om die Paasfees te vier.
13. Hulle het takke van palmbome geneem en hulle het na Jesus toe gegaan. Hulle het hard geskree: Prys God!Prys die Man wat kom.Die Here het Hom gestuur,Hy is die Koning van Israel.
14. Jesus het ’n jong donkie gekry en Hy het op die donkie gaan sit. Dit het gebeur soos daar in die Ou Testament geskryf is:
15. Sion, jy moenie bang wees nie,want jou Koning kom na jou toe,Hy ry op ’n jong donkie.
16. Jesus se dissipels het nie dadelik verstaan wat gebeur het nie. Hulle het later verstaan toe God gewys het Jesus is ook God. Hulle het toe teruggedink aan die dag toe Jesus op ’n jong donkie in Jerusalem ingery het en hulle het verstaan dat die mense gedoen het soos daar in die Ou Testament oor Jesus geskryf is.
17. Die mense wat by Jesus was toe Hy vir Lasarus uit die graf geroep het en hom weer laat lewe het, het oral vertel wat Jesus gedoen het.
18. Daarom het baie mense na Jesus toe gegaan toe Hy na Jerusalem gekom het. Hulle het gehoor dat Jesus hierdie wonderteken gedoen het.
19. Die Fariseërs het vir mekaar gesê: “Kan julle sien, ons kry niks reg nie. Al die mense gaan saam met Jesus!”
20. Daar was ook Grieke wat gekom het om God op die Paasfees te aanbid.
21. Die Grieke het na Filippus toe gekom en hulle het vir hom gesê: “Meneer, ons wil graag vir Jesus sien.”Filippus het van die stad Betsaida in die provinsie Galilea gekom.
22. Filippus het na Andreas toe gegaan en hy het vir Andreas gesê die Grieke wil vir Jesus sien. Andreas en Filippus het gegaan en hulle het vir Jesus gesê die Grieke wil Hom sien.
23. Jesus het vir hulle gesê: “Die tyd het gekom. Nou sal God wys dat Ek, die Seun van die mens, ook God is.
24. Ek sê vir julle, en dit is seker: Wanneer ’n mens ’n koringkorrel in die grond saai, dan gaan dit dood, en daarna groei die koring en dit dra baie koringkorrels. Maar as die koringkorrel nie in die grond val en doodgaan nie, dan word dit nie baie nie.