Genesis 24:13-32 Bybel vir Almal (ABA)

13. Kyk, ek staan hier by die fontein, en die meisies kom uit die stad om water te kom skep.

14. Ek sal vir ’n meisie vra: ‘Hou asseblief jou waterkruik sodat ek kan drink.’ As sy dan sê: ‘Jy mag drink, en ek sal jou kamele ook laat drink,’ dan sal ek weet U het haar gekies vir u dienaar Isak. Dan sal ek ook weet dat U doen wat U vir my eienaar belowe het.”

15. Hy was besig om dit te sê, toe kom Rebekka daar. Sy het haar waterkruik op haar skouer gedra. Sy was die dogter van Betuel, en Betuel was die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou Milka.

16. Die jong meisie was baie mooi, en sy het nog nie by ’n man geslaap nie. Sy het afgegaan na die fontein en sy het haar waterkruik volgemaak en weer boontoe gekom.

17. Die slaaf het na haar toe gehardloop en gevra: “Gee my asseblief ’n bietjie water uit jou waterkruik.”

18. Sy het gesê: “Drink, Meneer.”Sy het die waterkruik gou tot op haar hand laat sak en sy het vir hom water gegee om te drink.

19. Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek sal ook vir jou kamele water skep totdat hulle genoeg gedrink het.”

20. Sy gooi toe gou die water van haar kruik in die drinkbak en hardloop weer af na die fontein om water te skep. So het sy vir al die kamele water gegee.

21. Die slaaf het na haar gekyk om te sien of die Here vir hom die regte vrou gewys het of nie.

22. Toe die kamele klaar gedrink het, neem die man ’n goue ring wat ’n halfsikkel weeg, en sit dit aan haar neus.Hy het twee goue armbande geneem, elke armband het tien sikkels geweeg, en hy het dit aan haar arms gesit.

23. Hy vra toe: “Wie se dogter is jy? Sê asseblief vir my, is daar slaapplek vir ons in jou pa se huis?”

24. Sy het vir hom gesê: “Ek is ’n dogter van Betuel. Hy is die seun van Milka en Nahor.

25. Daar is baie strooi en voer by ons, en ook slaapplek.”

26. Die slaaf het gekniel en voor die Here gebuig

27. en gesê: “Ek prys U, Here, God van my eienaar Abraham. U was goed vir my eienaar en U het gedoen wat U belowe het. U het my gelei na my eienaar se broer toe.”

28. Die dogter het huis toe gehardloop en sy het vir haar ma gaan vertel wat gebeur het.

29. Rebekka het ’n broer gehad. Sy naam was Laban. Laban het na die man toe gehardloop by die fontein.

30. Hy het die neusring gesien en die armbande aan sy suster se arms. Toe hy hoor sy suster Rebekka vertel wat die man gesê het, het hy na die man toe gegaan. Die man het by die kamele by die fontein gestaan.

31. Laban sê toe vir hom: “Kom saam. Die Here het jou geseën. Hoekom staan jy hier buite? Ek het al klaar die huis gereedgemaak vir jou en ook die plek vir die kamele.”

32. Hy het die man huis toe gebring, die kamele losgemaak en vir hulle strooi en kos gegee. Hy het vir die man water gegee om sy voete te was en ook vir die ander mans wat by hom was.

Genesis 24