Filippense 2:19-27 Bybel vir Almal (ABA)

19. Ek wil vir Timoteus gou na julle toe stuur, en ek hoop die Here Jesus sal dink dit is reg. Ek wil hoor hoe dit met julle gaan sodat ek ook beter kan voel.

20. Ek het niemand anders wat soos Timoteus is nie. Hy sal julle graag help.

21. Al die ander mense dink net aan hulle eie dinge, hulle dink nie aan die dinge van Jesus Christus nie.

22. Maar julle weet Timoteus is ’n goeie mens. Julle weet dat hy saam met my gewerk het om die goeie boodskap te bring, hy het saam met my gewerk soos ’n seun saam met sy pa werk.

23. Ek wil vir Timoteus na julle toe stuur wanneer ek weet wat hier met my sal gebeur.

24. Ek weet die Here sal sorg dat ek ook gou na julle toe sal kom.

25. Epafroditos is my vriend en hy het regtig baie hard saam met my gewerk. Julle het hom na my toe gestuur om my met alles te help. Ek dink dit is nou belangrik dat ek vir Epafroditos terugstuur na julle toe,

26. want hy verlang na julle almal en hy is bekommerd, hy weet julle het gehoor dat hy siek was.

27. Epafroditos was regtig baie siek en hy het amper gesterf. Maar God was goed vir hom en hy het weer gesond geword. Ja, God was goed vir Epafroditos en ook vir my, want as hy gesterf het, dan sou ek nog baie swaarder gekry het.

Filippense 2