17. Maar Ek was jammer vir hulle en Ek het hulle nie doodgemaak nie. Ek het hulle nie almal daar in die woestyn laat sterf nie.
18. Ek het daar in die woestyn vir hulle kinders gesê: ‘Julle moenie lewe soos julle voorvaders altyd gelewe het nie, julle moenie doen wat hulle besluit het nie en julle moenie julleself onrein maak met hulle afgode nie.
19. Ek is julle God die Here. Julle moet lewe soos Ek wil hê en julle moet die dinge doen wat Ek besluit.
20. Julle moet my gewyde Sabbatdae hou. Die Sabbatdae moet ’n teken wees tussen My en julle, sodat julle sal weet dat Ek julle God die Here is.’
21. Maar die kinders was opstandig teen My. Hulle het nie gelewe soos Ek vir hulle gesê het nie, hulle het gedink die dinge wat Ek besluit, is nie belangrik nie en hulle het dit nie gedoen sodat hulle kon aanhou lewe nie. Hulle het aangehou om my Sabbatdae te ontwy. Ek het gedink Ek sal aanhou om hulle daar in die woestyn te straf totdat Ek nie meer kwaad is nie.
22. “Maar Ek het dit nie gedoen nie. Ek is die Here. Die ander volke het gesien dat Ek die Israeliete uit Egipte gebring het, en Ek wou nie hê dat daardie volke moet dink Ek kan nie doen wat Ek belowe het nie.
23. Ek het daar in die woestyn vir hulle gesê dat Ek hulle sal injaag tussen die volke in en dat Ek hulle in ander lande sal laat woon.
24. Ek het dit gedoen omdat hulle nie gedoen het wat Ek besluit het nie. Hulle het gedink die dinge wat Ek wil hê, is nie belangrik nie, hulle het my Sabbatdae ontwy en hulle het gehou van die afgode van hulle voorvaders.