Eksodus 10:15-23 Bybel vir Almal (ABA)

15. Daar was so baie sprinkane dat niemand die grond of die son kon sien nie. Die sprinkane het al die plante van die land opgevreet en ook al die vrugte wat oorgebly het nadat dit gehael het. Daar het in die hele Egipte nie ’n groen blaar oorgebly aan die bome en aan die plante in die veld nie.

16. Die farao het haastig vir Moses en Aäron geroep en gesê: “Ek het verkeerd gedoen teen julle God die Here en teen julle.

17. Vergewe asseblief my fout nog een maal en bid tot julle God die Here. Vra dat Hy hierdie sprinkane wat al die plante doodmaak, moet wegvat.”

18. Moses het weggegaan van die farao en hy het tot die Here gebid.

19. Die Here het die wind verander en ’n baie sterk westewind het begin waai. Die wind het die sprinkane in die Riet-see ingewaai. Daar het nie een sprinkaan oorgebly in die hele Egipte nie.

20. Maar die Here het die farao hardkoppig gemaak. Die farao het nie die Israeliete laat gaan nie.

21. Die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand op in die lug. Dan sal dit donker word in Egipte, pikdonker, sodat jy moet voel waar jy loop.”

22. Moses het sy hand opgesteek in die lug, en toe word dit baie donker in die hele Egipte, drie dae lank.

23. Die Egiptenaars kon mekaar nie sien nie, en drie dae lank moes almal bly waar hulle is. Maar daar was lig in al die Israeliete se woonplekke.

Eksodus 10