Deuteronomium 9:4-9 Bybel vir Almal (ABA)

4. Julle God die Here sal hulle wegjaag om plek te maak vir julle, maar dan moet julle nie dink dat die Here julle gebring het om hierdie land vir julleself te vat omdat julle reg gelewe het nie. Nee, hierdie volke het verkeerd gedoen, en daarom sal die Here hulle wegjaag om plek te maak vir julle.

5. Julle gaan om hierdie land vir julleself te vat, maar julle doen dit nie omdat julle reg gedoen het en eerlik was nie. Nee, julle God die Here jaag hierdie volke weg om plek te maak vir julle omdat die volke verkeerd gedoen het en omdat die Here wil doen wat Hy belowe het aan julle voorvaders, aan Abraham, Isak en Jakob.

6. Julle moet dit weet, die Here gee hierdie goeie land vir julle sodat julle dit vir julleself kan vat, maar Hy doen dit nie omdat julle reg gedoen het nie, want julle is ’n hardkoppige volk.

7. Julle moenie vergeet nie, julle moet onthou dat julle vir julle God die Here kwaad gemaak het in die woestyn. Julle was opstandig teen die Here, van daardie dag af toe julle uit die land Egipte gekom het totdat julle op hierdie plek aangekom het.

8. By Horeb-berg het julle die Here kwaad gemaak, en Hy was so kwaad dat Hy julle almal wou doodmaak.

9. Ek het teen die berg opgegaan om die plat klippe te kry, die klippe waarop die Here die verbond geskryf het wat Hy met julle gemaak het. Ek het 40 dae en 40 nagte lank op die berg gebly, en ek het niks geëet of gedrink nie.

Deuteronomium 9