Deuteronomium 9:14-21 Bybel vir Almal (ABA)

14. Jy moet My los, Ek wil hulle almal doodmaak sodat niemand op die aarde hulle naam sal onthou nie. Dan sal Ek jou nageslag ’n volk maak wat sterker en meer is as hulle.’

15. “Ek het teruggegaan en ek het afgekom van die berg. Die berg het gebrand, en ek het die twee plat klippe in my hande gehou, die klippe waarop die verbond geskryf was.

16. Ek het gekyk en toe sien ek julle hét die sonde gedoen teen julle God die Here. Julle hét vir julle ’n kalfbeeld gemaak, julle hét gou opgehou om te lewe soos die Here vir julle gesê het.

17. Ek het die twee plat klippe gegryp en ek het hulle met my twee hande gegooi. Die klippe het gebreek, julle het dit gesien.

18. Ek het voor die Here gaan lê, soos ek voorheen gedoen het. Ek het 40 dae en 40 nagte voor Hom gelê, ek het niks geëet of gedrink nie. Ek het dit gedoen oor die sonde wat julle gedoen het, die slegte ding wat julle gedoen het teen die Here om Hom te terg en kwaad te maak.

19. Ek was baie bang dat die Here so kwaad was vir julle dat Hy julle almal sou doodmaak. Maar die Here het ook hierdie maal gedoen wat ek vir Hom gevra het.

20. En die Here was so kwaad vir Aäron dat Hy hom wou doodmaak, maar ek het toe ook vir Aäron gebid.

21. Julle het groot sonde gedoen toe julle die kalfbeeld gemaak het, maar ek het die beeld gevat en verbrand en fyngestamp. Ek het dit gemaal totdat dit poeier was, en ek het die poeier gegooi in die riviertjie wat afkom teen die berg.

Deuteronomium 9