Deuteronomium 5:15-32 Bybel vir Almal (ABA)

15. Jy moet onthou dat jy ook ’n slaaf was in die land Egipte en dat jou God die Here jou van daar gebring het met sy groot krag. Dit is hoekom jou God die Here sê dat jy die Sabbatdag moet vier.

16. “ ‘Jy moet jou ouers respekteer, die Here het vir jou gesê om dit te doen. Dan sal jy lank lewe en dit sal goed gaan met jou in die land wat jou God die Here vir jou gee.

17. “ ‘Jy mag nie iemand vermoor nie.

18. “ ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

19. “ ‘Jy mag nie steel nie.

20. “ ‘Jy mag nie leuens vertel oor ander mense nie.

21. “ ‘Jy mag nie ’n ander man se vrou vir jouself wil hê nie. Jy mag nie ’n ander mens se huis vir jouself wil hê nie, ook nie sy grond, of sy slaaf of slavin, of sy bees of sy donkie, of enige iets wat aan ’n ander mens behoort nie.’

22. “Die Here het hierdie woorde hard en duidelik gesê vir julle hele volksvergadering, en Hy het nie nog iets anders gesê nie. Dit was op die berg, en Hy het gepraat uit die vuur en uit die donker wolk. Hy het daarna die woorde op twee plat klippe geskryf en Hy het dit vir my gegee.

23. Maar toe die berg so brand en toe julle sy stem hoor praat uit die donker, het al julle stamhoofde en leiers na my toe gekom

24. en gesê: ‘Luister, die Here, die Groot Koning, het aan ons verskyn, ons het Hom gehoor praat uit die vuur. Vandag het ons gesien dat ’n mens kan aanhou lewe wanneer God met hom praat.

25. Maar as ons moet aanhou om die stem van ons God die Here te hoor, dan sal ons sterf, ons sal brand in hierdie groot vuur. En ons wil nie sterf nie.

26. Want daar is niemand op die aarde wat ook soos ons die stem gehoor het van die God wat lewe, en wat daarna aangehou lewe het nie.

27. Moses, jý moet nader gaan en gaan luister na wat ons God die Here sê. En dan moet jý vir ons alles sê wat ons God die Here vir jou gesê het. Ons sal gehoorsaam wees en doen wat Hy sê.’

28. “Die Here het gehoor wat julle vir my gesê het en Hy het vir my gesê: ‘Ek het gehoor wat hierdie volk vir jou gesê het, hulle is heeltemal reg.

29. Ek wens hulle wou My altyd so dien en altyd doen wat my gebooie sê, sodat dit goed kan gaan met hulle en hulle kinders.

30. Gaan sê vir hulle dat hulle moet teruggaan na hulle tente.

31. Maar jy moet hier by My bly sodat Ek vir jou al die gebooie en die wette kan gee wat jy vir hulle moet leer. Hulle moet dit doen in die land wat Ek vir hulle gee om dit vir hulleself te vat.’

32. “Julle moet versigtig wees en alles doen wat julle God die Here vir julle gesê het. Julle moet dit presies só doen

Deuteronomium 5