Daniël 4:15-22 Bybel vir Almal (ABA)

15. Maar moenie die boom se stam uithaal nie, laat staan dit in die grond. Sit ’n band van yster en brons om die stam en laat die stam tussen die gras staan. Die dou uit die lug moet die stam natmaak. Nebukadnesar moet wilde plante eet soos die diere.

16. Sy verstand moet verander, dit moet sewe jaar lank soos ’n dier se verstand word.

17. Dit het die heilige engele gesê, en dit sal gebeur. Dan sal almal wat lewe, weet dit is God, die Hoogste God, wat besluit wie koning sal wees. Hy kan enige mens kies en hom koning maak, ook die onbelangrikste mens.”

18. “ ‘Dit is die droom wat ek, Nebukadnesar, gehad het, en jy, Beltsassar, moet vir my sê wat die droom beteken. Al die wyse mense in my land kan nie vir my sê wat dit beteken nie, maar jy kan, want dit is die heilige gode wat jou help.’ ”

19. Daniël, wie se ander naam Beltsassar was, het groot geskrik en baie bang geword. Maar die koning het gesê: “Beltsassar, jy moenie skrik oor die droom en oor wat dit beteken nie.”Beltsassar sê toe: “Koning, dit is ’n slegte droom. Ek wens jou vyande het dit gedroom.

20. Jy het ’n boom gesien wat baie hoog en sterk geword het, die boom het aan die hemel geraak. Al die mense op die aarde kon die boom sien.

21. Daar was mooi blare en baie vrugte aan die boom. Dit was kos vir almal. Al die diere kon onder die boom lewe en al die voëls kon in sy takke woon.

22. Koning, die boom is jy. Jy het koning van die hele aarde geword.

Daniël 4