2 Samuel 13:9-18 Bybel vir Almal (ABA)

9. Toe het sy die pan geneem en sy het die broodjies voor hom uitgehaal. Maar hy wou dit nie eet nie. Hy het gesê almal moet uitgaan, en hulle het almal gegaan.

10. Toe sê hy vir Tamar: “Bring die kos na my kamer en gee dit daar vir my.”Tamar het die broodjies geneem wat sy gebak het en sy het dit vir haar broer Amnon in die kamer gebring.

11. Maar toe sy dit nader bring sodat hy dit kon eet, gryp hy haar en sê vir haar: “My suster, kom lê by my.”

12. Maar sy het vir hom gesê: “Nee, my broer, jy moenie vir my verkrag nie. So iets is verkeerd, Israeliete mag dit nie doen nie. Moenie hierdie slegte ding doen nie.

13. Dink aan my. Waarnatoe sal ek gaan? Dit sal ’n skande wees. En jy, almal sal dink jy is ’n dwaas. Daarom, praat asseblief met die koning, hy sal jou met my laat trou.”

14. Maar Amnon wou nie na haar luister nie. Hy was sterker as sy en hy het haar verkrag.

15. En daarna het Amnon niks meer van haar gehou nie. Hy het haar meer gehaat as wat hy voorheen verlief was op haar. Hy het vir haar gesê: “Jy moet opstaan en loop.”

16. Sy het vir hom gesê: “Nou jaag jy my weg. Jy wil ’n ding doen wat baie slegter is as die ding wat jy klaar aan my gedoen het.”Maar Amnon wou nie luister na haar nie.

17. Hy het die jongman geroep wat hom bedien het en hy het vir hom gesê: “Jaag weg hierdie vrou en maak toe die deur agter haar.”

18. Tamar het ’n lang rok aangehad, die rok het moue gehad. Prinsesse wat nog jongmeisies was, het altyd dit aangetrek. Amnon se bediende het haar uitgestoot buitetoe en hy het die deur toegemaak agter haar.

2 Samuel 13