4. Want dit lyk vir my julle glo en aanvaar maklik iemand wat kom en wat vir julle van ’n ander Jesus vertel, nie dieselfde Jesus wat ons vir julle gepreek het nie. Of julle aanvaar miskien ’n ander gees en boodskap, nie die Gees van God en die goeie boodskap wat ons vir julle gebring het nie.
5. Ek dink dat ek ook so goed is soos daardie vals apostels, hulle dink dat hulle beter is as ek.
6. Ek praat miskien nie so goed soos hulle nie, maar ek weet alles wat ek moet weet. Julle het dit gesien toe ons by julle was en toe ons vir julle alles verduidelik het op verskillende maniere.
7. Dink julle ek was verkeerd omdat ek nie geld gevra het nie toe ek die goeie boodskap van God vir julle gepreek het? Party mense dink miskien dat ek myself verneder het, maar dit was omdat julle vir my so belangrik was.
8. Ek het geld van die kerke van die provinsie Masedonië geneem om vir julle te werk.
9. Toe ek by julle was en nie geld gehad het nie, het ek vir niemand van julle gepla en geld gevra nie. Die gelowiges van Masedonië het my gehelp toe hulle in Korinte gekom het. Ek het nooit vir julle geld gevra vir myself nie, en ek sal dit ook nooit doen nie.
10. Ek is trots daarop dat ek nie vir julle geld gevra het nie, en ek sal in die hele provinsie Agaje daaroor praat. Ek praat die waarheid, Christus weet dit.
11. En hoekom wil ek nie vir julle geld vra nie? Is dit omdat ek nie lief is vir julle nie? Nee, God weet hoe lief ek vir julle is.
12. Ek vra nie vir julle geld nie, en ek sál ook nie vir julle geld vra nie. Want so wil ek die verkeerde mense keer, ek wil nie hê dat hulle in julle gemeente moet werk nie. Hierdie mense is jaloers, hulle wil hê dat julle trots moet wees op hulle soos julle trots is op ons.
13. Hierdie mense is vals apostels. Die dinge wat hulle doen, lei mense op ’n verkeerde pad. Hulle maak of hulle apostels van Christus is.
14. Maar ek is nie verbaas nie, want ook Satan maak of hy ’n engel van die lig is.
15. Daarom is ons nie verbaas dat die mense wat vir Satan dien, maak of hulle goeie dinge doen nie. God sal eendag vir hierdie vals apostels die straf gee wat hulle moet kry.
16. Ek het dit al voorheen gesê, maar ek sê dit weer: Julle moenie dink ek is dom nie. Of miskien moet julle dink ek is dom, want dan kan ek ook ’n klein bietjie spog.
17. Ek sal nou iets sê, maar dit kom nie van die Here nie. Ek praat nou soos ’n dom mens wanneer ek ’n bietjie wil spog.
18. Daar is baie mense wat spog soos wêreldse mense, daarom wil ek ook nou spog.
19. Want ek dink julle hou van dom mense, julle wat dink dat julle baie verstandig is.
20. Julle hou daarvan om iemand se slawe te wees, julle hou daarvan wanneer iemand julle geld vat, wanneer iemand met julle doen wat hy wil, wanneer iemand dink hy is wonderlik, wanneer iemand julle beledig.
21. Ek is jammer om dit te sê, maar ons was te swak om dit aan julle te doen.Ek weet ek praat nou soos ’n dom mens, maar as ander mense kan spog, dan kan ek ook spog.