1. Die profeet Elisa het een van die profete geroep en vir hom gesê: “Jy moet jou klere vasmaak en hierdie kruikie olyf-olie neem en na die stad Ramot in die land Gilead gaan.
2. Wanneer jy daar kom en jy sien vir Jehu seun van Josafat seun van Nimsi, dan moet jy vir hom sê hy moet daar uitkom, weg van die ander offisiere, en jy moet hom alleen na ’n kamer neem.
3. Dan moet jy die kruikie olyf-olie op sy kop uitgooi en jy moet sê: ‘Die Here sê Hy salf jou om koning te wees van Israel.’ Dan moet jy die deur oopmaak en dadelik weggaan.”
4. Die jongman, die profeet, het na Ramot in Gilead gegaan,
5. en toe hy daar kom, sien hy die offisiere daar sit. Hy het vir Jehu gesê: “Offisier, ek het ’n boodskap vir jou.”Jehu vra toe: “Vir wie van ons is die boodskap?”Die profeet antwoord toe: “Die boodskap is vir jóú, Offisier.”
6. Jehu het opgestaan en in die huis ingegaan, en die profeet het die olyf-olie op sy kop uitgegooi en vir hom gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: Ek salf jou om koning te wees van my volk Israel.
7. Jy moet die familie van jou koning Agab doodmaak. Ek wil hulle straf omdat Isebel my dienaars die profete en al my ander dienaars vermoor het.
8. Die familie van Agab sal almal sterf. Ek sal die mans en die seuns van die familie van Agab almal laat doodmaak, elkeen in die land Israel, almal wat getroud is of wat nie getroud is nie.
9. Ek sal met die familie van koning Agab doen soos Ek gedoen het met die familie van koning Jerobeam seun van Nebat en met die familie van koning Baesa seun van Agija.
10. Die honde sal vir Isebel opvreet by die stad Jisreël, niemand sal haar begrawe nie.”Nadat die profeet hierdie boodskap vir Jehu gebring het, het hy die deur oopgemaak en vinnig weggegaan.
11. Jehu het uitgegaan na die offisiere van sy koning toe, en een offisier het vir hom gevra: “Is daar ’n probleem? Hoekom het daardie mal man na jou toe gekom?”Jehu het vir hulle gesê: “Julle weet self hoe daardie man praat.”
12. Maar die ander offisiere het gesê: “Nee, jy jok, vertel vir ons wat hy gesê het.”En toe sê Jehu: “Die profeet het vir my gesê die Here sê Hy salf my om koning te wees van Israel.”
13. Toe trek die offisiere dadelik hulle klere uit en hulle gooi dit op die trappe oop voor Jehu en hulle blaas die ramshoring en hulle skree: “Jehu het koning geword!”
14-15. Jehu seun van Nimsi het saam met die offisiere planne gemaak om koning Joram dood te maak. Joram was toe in die stad Jisreël om gesond te word, want die Arameërs het hom raakgeskiet en gewond toe hy die stad Ramot in Gilead wou terugvat. Joram en al die manne van Israel het daar geveg teen koning Gasael van Aram. Jehu het vir die offisiere gesê: “As julle wil hê ek moet koning word, dan moet julle seker maak dat niemand hier uit Ramot wegkom om vir die koning in Jisreël te gaan vertel wat ons wil doen nie.”
16. Jehu het na Jisreël gery, want Joram het daar siek gelê, en koning Ahasia van Juda het vir Joram kom besoek.
17. Die wag op die toring van Jisreël het die klomp mense van Jehu gesien aankom en hy het geskree: “Ek sien ’n klomp mense!”Joram het gesê: “Stuur ’n boodskapper op ’n perd na hulle toe en sê hy moet vra of daar ’n probleem is.”
18. Die boodskapper het na Jehu toe gegaan en gesê: “Die koning vra of daar ’n probleem is.”Jehu het gesê: “Hoekom vra jy of daar ’n probleem is? Dit maak nie saak nie, draai om en kom saam met my.”Die wag het geskree: “Die boodskapper het by die klomp mense gekom, maar hy kom nie terug nie.”
19. Die koning het weer ’n boodskapper op ’n perd gestuur, en hy het by die manne gekom en gesê: “Die koning vra of daar ’n probleem is.”En Jehu het gesê: “Hoekom vra jy of daar ’n probleem is? Dit maak nie saak nie, draai om en kom saam met my.”
20. Die wag het geskree: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom ook nie terug nie. Dit lyk of dit Jehu is wat op die oorlogkar ry, want hy jaag soos ’n mal mens.”