2 Konings 25:8-14 Bybel vir Almal (ABA)

8. Nebusaradan, die hoof-offisier en amptenaar van die koning van Babel, het na Jerusalem gekom in die vyfde maand, op die sewende dag van die maand, in die 19de jaar nadat Nebukadnesar koning van Babel geword het.

9. Nebusaradan het die tempel afgebrand en ook die paleis en al die huise in Jerusalem, al die groot huise.

10. Die soldate van die Galdeërs wat by die hoof-offisier was, het die mure rondom Jerusalem afgebreek.

11. Die hoof-offisier Nebusaradan het die mense gevang wat nog in die stad was. Hy het ook die mense gevang en weggevat wat self besluit het om na die koning van Babel toe te gaan. Hulle was die mense wat oorgebly het van al die baie mense in die stad.

12. Nebusaradan het net die armste mense van die land daar laat bly om in die wingerde en op die koringlande te werk.

13. Die Galdeërs het die pilare stukkend geslaan wat by die tempel was, en ook die waentjies en die waterbak van brons wat by die tempel was, en hulle het die brons weggevat na Babel.

14. Hulle het ook die potte, die grawe en die messe, die bakke en al die goed van brons gevat. Dit was die goed wat die priesters by die tempel gebruik het.

2 Konings 25