1 Samuel 17:27-36 Bybel vir Almal (ABA)

27. Die manne het vir Dawid gesê wat die koning sal doen vir die man wat die Filistyn oorwin.

28. Dawid se oudste broer Eliab het gehoor toe Dawid met die manne praat. Eliab het kwaad geword vir Dawid en hy het gesê: “Hoekom het jy hiernatoe gekom, en by wie het jy daardie skape en bokke in die veld gelos? Ek weet jy is parmantig en skelm. Jy het net gekom om te kyk hoe ons veg.”

29. Dawid het gesê: “Wat het ek verkeerd gedoen? Ek het net gevra.”

30. Dawid het weggedraai van Eliab. Hy het dieselfde vir die ander manne gevra, en hulle het vir hom dieselfde geantwoord.

31. Party manne het gehoor wat Dawid sê, en hulle het dit vir koning Saul gaan vertel. Saul het vir Dawid laat roep.

32. Dawid het vir Saul gesê: “Niemand moet bang wees vir hierdie Filistyn nie. Ek sal teen hom gaan veg.”

33. Saul het vir Dawid gesê: “Jy kan nie teen hom gaan veg nie, want jy is ’n kind en hy is ’n man wat oorlog maak vandat hy jonk was.”

34. Dawid het vir Saul gesê: “Ek was ’n wagter by my pa se skape en bokke, en wanneer ’n leeu of ’n beer gekom het en een van die skape weggedra het,

35. dan het ek hom gejaag en hom geslaan en die skaap uit sy bek geruk. En wanneer hy my wou byt, dan het ek hom aan sy baard gegryp en hom doodgeslaan.

36. Ek het leeus én bere oorwin, en hierdie Filistyn, hierdie heiden, sal soos een van hulle wees, want hy het gesê die manne van die God wat lewe, beteken niks.”

1 Samuel 17