1 Petrus 2:9-18 Bybel vir Almal (ABA)

9. Maar julle is God se volk, God het vir julle gekies, julle is die priesters oor wie Hy regeer, julle is ’n gewyde volk, sy eie volk wat vir almal moet vertel van die groot dinge wat God gedoen het. Hy het vir julle geroep om uit die donker na Hom toe te kom, na Hom wat in die wonderlike lig is.

10. Toe was julle nie ’n volk nie,maar nou is julle God se volk.Toe was God nie goedvir julle nie,maar nou is Hy goed vir julle.

11. Liewe vriende, julle is soos mense wat vreemdelinge is en wat nie in hulle eie huise woon nie. Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moenie die slegte dinge wil doen wat mense graag doen nie, want daardie slegte dinge verwoes ’n mens se lewe.

12. Julle moet goeie dinge doen terwyl julle tussen die heidene lewe. Wanneer die heidene slegte dinge sê van julle, en hulle sê julle doen verkeerd, dan moet hulle kan sien dat julle goeie dinge doen. Dan sal hulle vir God prys op die dag wanneer Hy sal kom om almal te red wat glo.

13. Die Here wil hê dat julle gehoorsaam moet wees aan almal wat oor julle regeer. Julle moet gehoorsaam wees aan die keiser wat oor julle regeer.

14. Julle moet ook gehoorsaam wees aan die goewerneurs, want die keiser het hulle gestuur om die mense te straf wat slegte dinge doen en om die mense te prys wat goeie dinge doen.

15. Julle moet gehoorsaam wees, want God wil hê dat die onverstandige mense moet stilbly wanneer hulle sien dat julle goeie dinge doen. Die onverstandige mense weet nie wat God wil hê nie.

16. Julle is vry mense, maar julle moenie dink dat julle slegte dinge mag doen omdat julle vry is nie. Nee, julle is vry mense, maar julle is ook dienaars van God.

17. Julle moet al die mense eer, julle moet lief wees vir die mense wat in die Here glo, julle moet God eer en dien, julle moet die keiser eer.

18. Julle wat slawe is wat in die huise moet werk, julle moet gehoorsaam wees aan julle eienaars en julle moet hulle altyd respekteer. Julle moenie gehoorsaam wees net aan die goeie en vriendelike eienaars nie, julle moet ook gehoorsaam wees aan die eienaars wat slegte dinge doen aan julle.

1 Petrus 2